SAB Kickstart 2014 Programme

with No Comments

Entrepreneurs (Die Burger/Netwerk24)

Vrydag 10 April 2015 05:00Angelo-Maart

‘Ek is honger vir sukses en wil ‘n verskil maak.’

Die 27-jarige Angelo Maart is die Wes-Kaap se enigste verteenwoordiger onder die 18 finaliste van die SAB Kickstart-program vir jong entrepreneurs. Schalk Jonker het met dié ei
enaar van Angelo’s Recycling in Elsiesrivier gesels oor sy herwinningsonderneming en sy groot planne vir die toekoms.

 

Hoekom het jy besluit om ‘n herwinningsonderneming te begin?

Ek het in 2010 ‘n gaping in die mark gesien en nadat ek ‘n bietjie navorsing gedoen het, het ek tot die slotsom gekom dat dit ‘n lewensvatbare en volhoubare bedryf is. Ek het ook besef dat Suid-Afrika nog ver agter die internasionale gemeenskap is wat betref herwinning en dat dit ‘n bedryf was waarin ek my stempel kon afdruk as ek dit reg benader.

Ek het besluit om op die gasvryheidsektor te fokus en het by nagklubs, kroeë, restaurante en hotelle gaan aanklop opsoek na kliënte. Ek het egter my huiswerk deeglik gedoen en ‘n ordentlike sakeplan opgestel wat ek na voornemende kliënte geneem het.  Dit het gewerk en April 2011 kon my onderneming van die grond af kry.

 

Was jy dus op die regte tyd op die regte plek?

‘n Groeiende bewustheid van herwinning en eko-vriendelikheid het beslis gehelp.

Veral besighede het meer bewus geraak van die feit dat mense van hulle verwag om ‘groen’ te wees en dat hulle maatreëls in plek moes kry om iets te doen. Dit was ‘n groot hupstoot vir my onderneming.

 

Is herwinning vir jou belangrik?

Ek is baie passievol daaroor en sou my nie in die herwinningsbedryf begewe het as ek nie omgegee het vir die omgewing nie. Maar soos ek sê, Suid-Afrikaners oor die algemeen moet nog baie doen om ons op dieselfde vlak as die internasionale gemeenskap te kry.

Die situasie is al aansienlik beter sedert ek begin het, maar daar kan nog baie gedoen word ten opsigte van opvoeding om die saak aan te spreek.

 

Wat motiveer jou om jou eie ding te doen en nie ‘n salaristrekker te wees nie?

Ek is honger vir sukses en ek wil iemand wees wat ‘n positiewe verskil maak.

Dit gaan vir my daaroor om deurgaans die grense te toets en te soek na maniere hoe ek beter kan wees in dit wat ek doen.

 

Wat was van die grootste struikelblokke in jou pad sedert jy begin het?

Voor die SAB Kickstart-program het ek nog nooit ‘n sent van enige instansie ontvang nie. Ek het nie ‘n banklening of ‘n staatstoelae of enigiets gehad wat my gehelp het nie en ek bedryf my onderneming nou al vir vier jaar uit my eie sak.

Dit het tot die gevolg gehad dat kontantvloei my tot ‘n sekere mate beperk het. Maar ek sien dit nie regtig as ‘n struikelblok nie.

Ek sien dit meer as ‘n geleentheid om ‘n plan te maak om ‘n manier te vind om die probleem op te los. Ek glo dit laat my groei as ‘n sakeman.

 

Wat onderskei jou van jou mededingers?

Ek het gesien dat baie van die diensverskaffers in die bedryf baie eendimensioneel is en ek het my sakemodel basies opgestel as die een plek waar jy alles kan kry.

Dit gaan ook oor persoonlike diens en verhoudinge. My kliënte weet dat hulle direk met my kan skakel.

Ek het ook nie baie oorhoofse kostes nie, omdat ek nog van die die huis af werk. Dus kan ek baie mededingend wees met my pryse.

 

As finalis in die SAB Kick-start-program, het jy ‘n toegif van R130 000 ontvang.  Wat beplan jy om met die geld te doen?

Ek gaan die geld gebruik om twee sleepwaens te koop, want ek huur in dié stadium myne.

Dan is daar klien goedjies soos beskermende klere en skoonmaakmiddels wat ook aangeskaf moet word.

Ek beoog ook om my onderneming na sy eie perseel te skuif en ek wil ‘n assistent aanstel. In November word die 18 finaliste uitgedun tot vyf, wanneer daar nog geld op die spel is.

Ek wil die geld wat ek nou gekry het gebruik om my sakemodel te verfyn en die onderneming te laat groei.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply